Spaar vir wanneer jy nie kan spaar nie

by | Sep 3, 2025

‘n artikel deur Wade Shaw – Resolute Wealth – Welvaart Bestuurder

In die wêreld van finansies is daar ’n wonderlike beginsel wat eendag goed sal wees vir jou ouer self en ook om vir jou n behoorlike toekoms te bou.

Beleggings, selfs met klein bedrae, maak oor ’n lang tydperk ‘n groot verskil. Dit is soos ’n atleet wat elke oggend vroeg opstaan en stappie vir stappie voorberei vir ’n wedloop. Dis nie altyd die lang oefensessies wat die verskil maak nie, maar die konsekwente, km vir km oefen oor tyd, voet vir voet en stukkie vir stukkie.

Waarom spaar vir aftrede as ek so jonk is? Nee wat, ek worry nie nou al daaroor nie.

’n Atleet of Sportster begin nie as ‘n ster nie. Hulle begin op ‘n jong ouderdom met ma of pa wat langs die veld staan en aanmoedig. Met geduld en volharding bou die atleet sy/haar uithouvermoë op, dag vir dag, stappie vir stappie. Ook as dit moeilik voel, bly hul volhou, met die eindstreep in gedagte. So is beleggings ook. Dit gaan nie oor om vinnig baie geld te maak en te belê nie, maar om elke maand ’n bietjie, selfs al is dit klein bedrae, weg te sit. Oor jare sal daardie klein bydrae groei deur rente en die krag van saamgestelde rente – iets wat jy nie kan kry deur die volgende “vinnig rykword” skema nie.

Spaar vir wanneer jy nie kan spaar nie

Hierdie sê-ding, “Spaar vir wanneer jy nie kan spaar nie,” is ’n lewenswyse wat ons almal moet onthou. Dit is omdat daar ’n tyd in elkeen se lewe sal kom wanneer jy nie finansieël op jou beste is nie – dit kan wees as jy sou siek word, sonder werk is, of met ’n onvoorsiene onkoste sit. Om dan ’n spaarfonds of beleggingsportefeulje te hê wat jy kan gebruik, is ’n geskenk aan jouself wat jou vryheid en sekuriteit gee. Dit weerhou jou ook van onnodige skuld maak en as jy die ou KOEVERT voorbeeld gebruik, dan begin jy om vir Nood, vir Koop en vir jou OU self in verskillende pakkies/ koerverte te spaar. Hou jou vinnige vingers weg van jou oudag geld af.

Die sluipmoordenaar: Klein onnodige, ek wil dit nou he – aankope

Baie mense, oud en jonk, met groot salarisse en klein, weet nie dat die klein onbeplande aankope elke paar dae—daai ekstra koffietjie, onnodige wegneemetes, of impulsiewe goedjies op Shein (skaam in Afrikaans- want jy wil nie he almal moet weet jy het dit daar gekoop nie) of take a little—oor ’n leeftyd jou gemak op jou oudag kan opvreet, moontlik miljoene rande wat jy kon spaar en beleggings gemaak het wat jou finansiële toekoms sou verseker.

Maak dit ’n gewoonte om elke keer voordat jy iets koop, jouself te vra: “Is dit regtig nodig? Gaan dit my vir 20 jaar hou, kan ek dit eerder belê?” Dis die klein, verstandige keuses, daagliks wat jou finansiële wedren gaan help wen.

Die langtermyn voordeel van klein gereelde bedrae

Wanneer jy klein bedrae oor ’n lang tydperk belê, groei jou belegging nie net deur jou oorspronklike bydraes nie, maar ook deur rente-op-rente, die sewende wonderwerk van die wêreld. Nie soos Richard Maak nie saak nie – passiewe inkomste deur om skuld te maak nie. Maar eerder soos Jan Alleman – bietjie bietjie maak baie.

Deur om gereelde klein beleggings te maak, werk jou geld vir jou, en jy sal eendag beloon word met genoeg kapitaal om op jou oudag op die strand te loop en lekker koffie by jou gunsteling koffiewinkel te koop.

Dit gaan werk vir jou soos ‘n atleet se spiere, wat sterker word met elke oefensessie en hul in staat stel om die wedloop se lang afstand met gemak te oorkom.

Belegging is ’n reis van geduld, volharding en verstandige keuses—presies soos die voorbereiding vir ’n wedloop. Begin klein, wees konsekwent, en onthou altyd: “Spaar vir wanneer jy nie kan spaar nie.” Die tyd om te begin is nou, want die toekoms beloon diegene wat met wysheid en deursettingsvermoë werk.  Geld is nie alles nie maar jou finansiële vryheid wag vir jou by die eindstreep!

Lekker lees deur die volgende artikel van Morningstar: Debra Slabber

Spaar vir Aftrede: Jou Persoonlike Comrades-Maraton

Lees meer hier