GELD KAN NIE LIEFDE KOOP NIE MAAR OM DAAROOR TE PRAAT KAN TOEKOMSTIGE GELUK BRING

by | Aug 1, 2021

Kommunikasie en eerlikheid is die geheim vir ‘n suksesvolle verhouding, veral as dit kom by julle finansies. In hierdie artikel deel Leah Sefor, ‘n lewens- en verhoudingsafrigter, ‘n paar wenke waaroor paartjies tydens intieme gesprekke behoort te gesels wat hul finansiële prioriteite, doelwitte, uitgawes en besteding aan betref. Leah verduidelik dat geld nie geluk kan koop nie, maar om eerlik daaroor te wees, kan ‘n gesonder vennootskap beteken.

Geld kan nie liefde koop nie, maar om daaroor te praat kan toekomstige geluk bring

Die kanse dat ‘n paartjie hul verhouding sal beëindig, is 10 keer groter as die een van mening is dat sy of haar lewensmaat swak geldgewoontes het. Hierdie bevinding van ‘n onlangse ondersoek deur Policy Genius gee waarskynlik die wrede werklikheid weer dat geldkwessies die oorsaak van 55,6% van egskeidings is.

Dit is noodsaaklik om eerlik met jou lewensmaat te wees as julle ‘n goeie verhouding wil hê. Selfs al is jul geldsake heeltemal afsonderlik, is dit beter om dit eens te wees en na dieselfde gedeelde doelwitte te strewe. Geld kan nie geluk koop nie, maar om eerlik daaroor te wees, kan ‘n gesonder vennootskap beteken.

Trouens, vir paartjies wat nie omgee om oor hul geldsake te praat nie, is dit dikwels makliker om langtermyndoelwitte soos spaar vir ‘n huis of vakansie te bereik. Wees duidelik oor waarvoor julle spaar – tye van nood, opvoeding, ‘n vakansie, huisdeposito, ens. en kom ooreen en/of kry hulp oor hoeveel julle opsy sal moet sit. Besluit dan hoe julle elkeen tot jul spaardoelwitte kan bydra.

Ondanks hoe intiem paartjies is op ander vlakke, voel hulle dikwels baie ongemaklik wanneer dit kom by gesprekke oor hoeveel elkeen verdien – plus hul skuld en bates – en hoe hulle beplan om finansieel saam vorentoe te beweeg.

Hier volg ‘n paar wenke van Lewens- en Verhoudingsafrigter Leah Sefor oor waaroor paartjies tydens intieme gesprekke behoort te gesels wat betref hul finansiële prioriteite, doelwitte, uitgawes en besteding.

  1. Deel jou geldstorie met jou lewensmaat

Om jou geldstorie te deel, kan uiters insiggewend wees. Dit kan lei tot ‘n begrip van opvattings oor geld wat in jou kinderjare ingewortel is en kan die manier waarop julle op mekaar se ongewenste geldgedrag reageer, verander.

  1. Begroot saam

Gesonde verhoudings gaan daaroor om jou lewensmaat met sy lewensbeskouings te ondersteun. Prioritiseer die opstel van duidelike finansiële planne en begroot saam sodat julle albei se doelwitte bereik kan word. Bespreek inkomste en uigawes en doen ‘n plan aan die hand, waarmee julle albei gemaklik is, oor hoe julle saam jul geldsake sal bestuur. Dit help met gesprekke oor geld.

  1. Wees eerlik omtrent skuld

Jy moet vroeg in ‘n langtermynverhouding jou lewensmaat inlig omtrent jou skuldsituasie, omdat dit later ‘n impak op hom of haar gaan hê. Dis belangrik om te weet dat ‘n mens dikwels verleë en skaam kan voel om oor skuld te praat, veral met jou geliefde. Om dus kwaad te word vir die persoon wat skuld het, is nie bevorderlik vir die skep van ‘n veilige ruimte vir eerlike gesprekke nie. Wees opbouend in hierdie gesprekke, nie afbrekend met vingerwys en aanvalle nie.

  1. Weet wat jy werd is

Die mees algemene geldkwessie in verhoudings is wanneer een lewensmaat meer verdien en die hoofbroodwinner is en die ander een heelwat minder verdien of werkloos is. Die belangrikste kopskuif in dié verband is om te weet dat jou waarde in ‘n verhouding nie bepaal word deur hoeveel geld jy verdien nie. Geld is slegs een manier om waarde tot ‘n verhouding toe te voeg. Lewensmaats wat nie werk nie, voeg steeds baie waarde tot die verhouding toe deur die huis te bestuur, die huishoudelike inkopies te doen, na die kinders te kyk, sosiale reëlings te tref en jul lewens te organiseer.

  1. Stel ‘n Hoof Finansiële Beampte (HFB) vir die gesin aan

Wie ook al die beste met geld werk, behoort die Hoof Finansiële Beampte in die verhouding te wees. Dis nie ‘n kompetisie nie! Ons doen almal verskillende dinge goed. Daar is ‘n verskil tussen die beheer van geld en die bestuur van geld. Die HFB se werk is om die geld te bestuur, en nie om dit te beheer deur sy of haar lewensmaat van besluite uit te sluit of ‘n diktator te word nie.

Jul leefstylaspirasies en jul drome as ‘n paartjie sal die maklikste bereik word wanneer julle ooreenstem oor waarheen julle finansieel op pad is. Wanneer jy eerlik is teenoor jou lewensmaat oor jou doelwitte, sal dit selfs meer lonend wees as julle saamwerk om daardie doelwitte te bereik.

Bron: Sanlam